segunda-feira, 31 de março de 2008

Bevolking van die Québec




Bevolking
Die bevolking van die Province du Québec bestaan uit die afstammelinge van die Franssprekende en Engelssprekende setlaars en die Eerste Nasies (Premières Nations of Amerindians, veral Iroquois en Hurone, en Inuït). Daarbenewens het immigrante van dwarsoor die wêreld hulle in Quebec gevestig. Sedert 1945 het 650 000 immigrante uit 80 lande 'n nuwe tuiste in Québec gevind. 83% van die totale bevolking praat Frans, sowat 12% is Engelstalig. Daar is minderhede van Sjinese, Portugees-, Grieks- en Italiaanstaliges. Die grootste deel van die Québécois leef langs die Fleuve Saint-Laurent (Saint-Laurentrivier).


Claude Bernou se kaart van Nieu-Frankryk (1681)Voor die aankoms van die Franse setlaars was die gebied van die huidige provinsie die tuiste van 'n aantal Indiaanse stamme - die Eerste Nasies. Die Provinsie Quebec erken vandag elf nasies op sy gebied - die Inuït, die Mohawks (Irokese of Iroquois), die Innus, die Cri's, die Algonkins, die Atikamekw, die Micmacs, die Hurone, die Abenaki's, die Malesiete en die Naskapi's.

Die elf stamme van die Eerste Nasies het vandag sowat 70 000 lede en streef daarna om hul eie taal en kultuur te bewaar. Die Iroquois en Hurone is albei lede van die Irokese taalfamilie. Die naam "Huroon" is afgelei van die eieaardige kapsels van die mans. Die Franse woord l'huire, wat eintlik die opgesette borstels van 'n varken beskryf, word tot "Huroon" vervorm.

In die tydperk tussen 1627 en 1663 neem die Franse bevolking van Quebec van 100 tot 2 500 toe. Die eerste setlaars se geledere is binne 35 jaar versterk deur sowat 1 250 immigrante, en danksy die natuurlike bevolkingsgroei het hierdie syfer verdubbel. Die Franse setlaars het veral uit die kusgebiede en hawestede van Noord- en Wes-Frankryk en die hoofstad Parys gekom. Die geskiedkundige provinsies, wat die grootste rol in die volksplanting in Quebec gespeel het, was Normandië, Aunis, Perche, Île-de-France, Poitou, Maine, Saintonge, Anjou en Bretagne.

Die bevolking van Quebec het in die derde kwartaal van 2007 met 0,25 persent gegroei, en alhoewel hierdie syfer minder as die gemiddelde van Kanada is, het die aantal geboortes duidelik toegeneem. Vir die eerste keer sedert die 1980's is die natuurlike bevolkingsgroei sedert die begin van die jaar 2006 steeds hoër as die gemiddelde natuurlike bevolkingsaanwas vir die hele land.


L'Assemblée Nationale du Québec, die parlement van QuebecDie Franse taal het die taalstryd in die sewentigerjare gewen: opskrifte en kennisgewings moes gewoonlik eentalig Frans wees. Die afskaling van Engels word vandag nie meer stelselmatig deurgevoer nie; Engelstalige opskrifte behoort egter steeds kleiner te wees as die Franse. Immigrante word deur die provinisiale regering gekies; in 'n poging om die persentasie Franstaliges te vergroot het baie Noord-Afrikane in die afgelope jare 'n verblyfpermit gekry.


Immigrasie
In die jaar 2003 is 37 619 immigrante aanvaar, veral uit Franstalige lande en voormalige Franse kolonies. Die belangrikste lande van herkoms is Frankryk, België, Haiti, Libanon, Marokko, Sirië en Algerië.

Nenhum comentário: